Hy sal nooit laat vaar, die werke van Sy hande nie

“...Hy sal nooit laat vaar, die werke van Sy hande nie...”

Met hierdie woorde seëngroet oom Miek ons gisteroggend vanaf die liturgiese ruimte. Ek verkies 'n preekstoel, maar-nou-ja, dit is 'n gesprek vir 'n ander dag.
Gedurende die bediening van die Woord, het my gedagtes kort-kort bly uitwyk na hierdie woorde in die seëngroet. Ek het dit al soveelkeer gehoor, maar soos baie ander woorde, maak dit eers sin wanneer ek dit saam met Hom hoor. “ Hy sal nooit laat vaar, die werke van Sy hande nie”.
Dit het my die heel Sondag by gebly. Om geen ander rede, as die volle waarheid en leiding vir die lewe wat daar binne opgesluit is nie.
“a Work in progress” - dit is wat ons is. Dit herinner my aan die beeldhouer of pottebakker beeld wat ek al gebruik het en skrifkenners sekerlik ken. Die waarheid is egter dat hierdie beeld 'n werk-in-proses is. Die Here sê hierdeur dat hierdie “werk” nie hier en nou voltooi word nie; dat Hy nog daarmee besig is. Elke keer wanneer ek my eie wil volg en ons Here teleurstel, dan is dit soos die pottebakker wat die krakie in die klei oplet en dan die lot opbreek, louter en weer op die wiel sit om te begin draai. Dieselfde klei. Nie ander nie. Hy gooi nie die mislukte klei weg nie – Hy gebruik dit weer, en weer hoop Hy dat hierdie probeerslag sal werk. Kans op kans, keer op keer. Gelooflik.

Om met enige werk-in-proses in ons daaglikse bestaan te volhard, verg toewyding en deursettingsvermoeë. Wie op deesaarde sal bly vasbyt aan 'n taak as hy/sy nie daartoe toegewyd ( committed ) is nie. Wanneer ek omgee vir die uitkoms, dan wy ek my met volharding toe aan die insette. Dit is wat hierdie “pottebakker” doen.

Hierdie mikroskopiese bestaan wat ons voer, is in werklikheid waardeloos in vergelyking met die groter prentjie. Hoeveel van ons maak werklik 'n verskil aan die wêreld party dae? Nie eens elke dag nie – net so nou-en-dan. Ons volhard met neergelegde voorwaardes. Ons wy ons toe waar ons redelik seker is van die uitkoms. Ons laat vaar die werke van ons hande, wanneer die uitdaging onmoontlik blyk te wees en ons pottebakkers gooi die klei terug in die mengsel of net weg. Ongelooflik.

Dankie oom Miek. U seëngroet was die woordbediening vir my.