Hoogmoed kom tot ’n val!

Hoogmoed kom tot ’n val!

Dis die vierde en laaste keer wat God met Nebukadnesar praat. Hy doen dit weer deur ’n droom, deur ’n persoonlike ervaring waaraan Nebukadnesar nie kan ontsnap nie. Die droom het ’n boodskap van uiterste straf.

Die rede vir so ’n straf is Nebukadnesar se verregaande sonde en hoogmoed, asof hy alles is en God nie eens ’n faktor nie. As hy hom na die duidelike pad wat God by herhaling met hom geloop het, nie van sy sonde en hoogmoed bekeer nie, sal die vonnis as regverdige straf aan hom voltrek word.

’n Jaar na die droom het God ook op grond van Nebukadnesar se eie woorde die straf voltrek. Hy het dus met hom gehandel soos Hy Hom oor ’n lang tyd aan Nebukadnesar bekend gemaak het.

Steur ons ons aan God volgens die mate waarin Hy Hom aan ons bekend gemaak het in Jesus Christus? Daar is net twee moontlikhede: dis óf die harde weg tot erkenning dat Hy waarlik God is, óf die lieflike weg van bekering en geloof in Hom wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie.

Dít moet ons weet: sondige hoogmoed kom beslis tot ’n val!

Aan ‘n gemeente van dié aard sê die Here

Geloofsverval weens selfregverdiging en materialisme. Aan ‘n gemeente van dié aard sê die Here Jesus: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17). Christus self onttrek Hom uit kringe waar mense op hulle eie prestasies roem en hulleself salig spreek. Hulle weet nie eers dat die Here nie meer in hulle midde is nie. ‘n Ander gemeente wat aan dieselfde kwaal gely het, is Sardis. Jesus Christus sê: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). Die Amplified Bible sê: “Julle is veronderstel om geestelik lewendig te wees, maar in werklikheid is julle dood.” Hulle geloof het weens geestelike stagnasie weggekwyn omdat dit nie meer na werke van toewyding gelei het nie. Hulle het hulleself egter nog steeds as goeie Christene beskou. Hulle het dalk goed begin, maar nie goed geëindig nie (vgl. Gal. 3:3). Demas was ook ‘n persoon wat goed begin het, maar materialisme en liefde vir die wêreld het na sy geestelike ondergang gelei. Paulus sê: “Demas het my verlaat omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het” (2 Tim. 4:10). Ons moet goed begryp dat liefde vir God en liefde vir die wêreld nie saam in ons lewe kan bestaan nie, omdat dit botsende beginsels is (1 Joh. 2:15).

Leef nou

Leef nou!

Leef nou- hoor ek die woorde van Dr Carel Lombaard in my gedagtes. Woorde wat ek soms nie verstaan het nie, maar mettertyd het dit vir my sin begin maak. Ek het besef dat dinge in die verlede en bekommernisse oor die toekoms my lewensgeluk en vrede gesteel het. Uiteindelik het ek tot die slotsom gekom dat die hede en om in die hede te leef belangrik is vir my lewensvreugde en blysdkap. Ek het die bekommernisse in my lewe begin uitdaag en dit met nuwe gedagtes en inhoude begin vul. Ek het teruggekyk op my verlede en die tye gesien wat die bekommernisse nooit waar geword het nie. Ek het ook besef dat hoe meer ek aan die verlede vasgehou het, hoe meer het ek die negatiewe gebeure lewendig gehou. Op een of ander wyse moes ek afskeid neem van die selgte en die negatiewe in my lewe. Die kwaliteit van die hede het dit gevra. Ja, dit vra ook van jou en my om opnuut weer vandag nuut te dink oor die hede en geleenthede in die lewe. Hoe meer ons die negatiewe in die verlede lewendig hou, hoe meer mis ons die nuwe moontlikhede wat oor ons pad kom. Dit alles beteken om te kies- ja om te kies vir die hede!