Moenie eensydige besluite neem en só die bepaler van jou eie lotgevalle word nie.

en die Here in al jou besluite

Spreuke 3:6 – “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”

Dit is baie belangrik dat ‘n mens jou lewe in oorleg met die Here sal beplan. Moenie eensydige besluite neem en só die bepaler van jou eie lotgevalle word nie. Dit kan jou duur te staan kom. Die opdrag is dat ons die Here in al ons weë moet ken, m.a.w. in al ons besluite. Bid eers voordat jy ‘n finale besluit oor enigiets neem, en vra die Here om jou omstandighede na sy wil te beskik. Hy kan deure vir jou oopmaak of toemaak, daarom moet jy die saak aan Hom oorlaat. Dawid sê: “Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer” (Ps. 37:5). Wanneer ‘n deur toe is, moenie teen die prikkels skop en die deur probeer oop forseer nie, want dan dwing jy jou eie wil op die situasie af.

Behalwe vir die regte geleenthede waarvoor ons moet wag, moet ons ook seker maak dat die vrede van God in ons harte is. Wanneer jy baie onseker en selfs bang is om bv. jou werk te bedank, van woonplek te verander of na ‘n ander land te trek, wag eers totdat jy vrede oor die saak in jou hart het: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil. 4:6-7). As jy nog twyfel en nie vrede oor ‘n saak het nie, moet dan nie oorhaastige besluite neem nie.

Mense wat impulsief is, deurdink nie ‘n saak goed nie en is gewoonlik ook nie bereid om op die Here se leiding te wag nie. Hulle kan maklik uit die Here se wil beweeg, met ‘n verkeerde huweliksmaat trou, ‘n verkeerde beroepskeuse of studierigting maak, en ook verkeerde besluite oor verskillende aspekte van hulle lewe neem. Sulke mense moenie later, wanneer onaangename ervarings hulle deel is, vra waarom die Here dit oor hulle toegelaat het nie. Onder die aanstigting van die duiwel, of die begeerlikhede van hulle eie, ongekruisigde vlees, het hulle self die besluite geneem wat na hulle probleme gelei het. Volg liewer Salomo se beproefde raad: “Ken die Here in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”

Gebed: “Ons dankie U, Here Jesus, dat U ons Leidsman en Herder is wat ons deur die lewe wil begelei. U wil ons na groen weivelde lei, na waters waar rus is. As ons U volg sal elke dal opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; die krom draaie sal ‘n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë (Luk. 3:5). Maak ons bereid om u leiding te volg, en help ons dat ons prioriteite altyd reg sal wees. Ons moet eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, dan sal al die ander dinge vir ons bygevoeg word. Help ons om dit te doen, ter wille van u oorwinnende Naam. Amen.”

 

Omgee is iets wat jy doen – dit is ’n Christelike gewoonte!

  1. Omgee is iets wat jy doen – dit is ’n Christelike gewoonte!

Ons haak baie keer vas by die praat gedeelte.  Ons kan lank praat oor die meriete van omgee.  Ons wil redeneer oor omgee – moet ons gee of moet ons nie gee nie, vir wie moet ons gee en vir wie moet ons nie gee nie?  Wat moet ons gee en wat moet ons nie gee nie?  Hoeveel moet ons gee?  Wat gaan die mense maak met dit wat ons gee?  En dikwels praat ons onsself uit omgee uit!

Jakobus verwoord iets hiervan in 2:15: “Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?  So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”  Opvallend hier weer die volgorde.  Julle weet julle moet help, julle sê julle moet help, maar dan haak julle vas en help nie!

Ons bid baie keer presies dieselfde, veral aan tafel.  “Here, dankie vir die kos wat ons gaan eet, maak ons daarvoor dankbaar en wees asb met hulle wat minder bevoorreg is.  Amen.”  Ons weet ons moet dié wat minder bevoorreg is help (die Gees het ons al daarvan oortuig), ons sê dit vir mekaar en in ons gebede selfs vir die Here dat hulle gehelp moet word, maar dan eet ons rustig ons eie kos op en los die res vir die Here om uit te sorteer!  So ’n geloof sê Jakobus is dood.

Want hoe moet die Here by hulle wees as ons nie by hulle wil wees nie?  Hoe moet die Here sorg as ons nie wil sorg nie?  Hoe moet die Here gaan omgee as ons nie omgee nie?  Ons het Sondag gehoor van ’n gestremde kind wie se fiets gesteel is.  Hoe moet die Here vir daardie kind ’n nuwe fiets gee as ons dit nie wil doen nie?  Hoe moeilik is dit vanaand as hier 200 mense sit om vir daardie kind ’n nuwe fiets te gee of so ’n driewielfiets te bou?  Vriende, die Gees oortuig ons nie van omgee sodat ons ’n gevoel van omgee kan hê nie, maar sodat ons omgee hande en voete kan gee!  En omgee word eers deel van jou karakter, van wie jy is as jy dit begin doen!

En ons het baie voorbeelde in die gemeente waar dit wel gebeur.  Ons almal gee om deur mekaar te besoek, te versorg, te ondersteun.  Ons omgee kry hande en voete in Lesotho by die kleuterskooltjie, in Mosambiek by die oogkliniek.  Daar is nog baie ander voorbeelde.  Maar een ander voorbeeld in ons gemeente is die bediening aan die boemelaars in ons omgewing.  Op ’n Vrydagoggend 9 uur is hier ’n boemelaar gemeente!  En weet julle wat gebeur as ’n mens dit wat jy glo en van oortuig is begin doen?  Op die ou einde beteken dit vir jou baie meer as vir die mense vir wie jy omgee!  Gaan praat maar hierna met oom Andries en oom Vis.  Die oomblik as jy iets vir iemand doen, ervaar jy iets van die satisfaksie, die vervulling, die blydskap van ’n geloof wat nie net gedagtes en woorde is nie, maar wat werklik iets doen en beteken.  En hoe meer jy omgee doen, hoe meer word dit deel van wie jy is, deel van jou Christelike gewoonte en karakter, en word jy ’n omgee dissipel van Jesus.