Pragtig

Die binnekamer (gebed) is uiters belangrik
in die chaos van ons tyd;
want wie God uit die oog verloor het,
kan ook die wêreld nie meer hanteer nie.
- Helmut Thielicke (1908 -1986) -

DIE ONEINDIGHEID VAN GOD

DIE ONEINDIGHEID VAN GOD


Hoe sal ons ooit die grootheid van God kan meet? Waar is Sy begin en waar is Sy einde? Sal ons ooit by 'n punt kan kom dat ons sê "Hier is God se limiete". So ver strek Hy, en dit is die raamwerk waarin ons Hom kan afbaken. Gen 1 sê: "In die begin het God die hemel en aarde gemaak ……" Dit beteken nie dat God toe begin bestaan het nie. En as ons na die toekoms - en die ewigheid kyk, is daar nie 'n tydslimiet wat op die Here van toepassing is nie. God is oneindig. Oneindig wat? Oneindig groot, oneindig magtig, oneindig lief vir jou, oneindig geduldig, oneindig genadig, oneindig barmhartig, oneindig wys, net eenvoudig ……… oneindig.

Wetenskaplikes probeer verwoed bepaal hoe God se skepping lyk. Daar word gemeen dat ons galaksie - die melkweg - 100 biljoen sterre bevat. Dis baie! En dat daar dalk 100 biljoen galaksies in die uitspansel is. Elk met tussen 100 en 300 biljoen sterre. Sjoe, dis oneindig groot! En hoe meer die slim manne met die dik brille delf, hoe meer sukkel hulle om te verstaan. Einstein het gesê: "Hy dink nie God probeer kennis en inligting van ons weghou nie, hy dink God wil hê ons moet verder soek. God se skepping is oneindig groot. En Hy is baie groter as dit!!

· God se oneindigheid. En die mens? Nee wat, ons is, en weet nie veel nie. Ons het gesê God se kennis is oneindig. Maar die mens weet nog maar min. As ons kyk hoe die mens se kennis toeneem, dan is die tempo skrikwekkend. Ons word geweldig vinnig slimmer, maar ons sal maar altyd beperk bly. God se kennis is oneindig. Hy weet alles, van alles. Hy het oneindige kennis oor elke enkele veld denkbaar. Hy is die grootste geneesheer, die slimste wetenskaplike. Kan jy iets maak waarvan jy niks weet nie? God het alles gemaak, dus moet hy alles van alles af weet. Ons weet maar beperk ietsie van wat ons elke dag ervaar en beoefen. God het oneindige kennis.
· God is ook oneindig magtig. Is daar iemand groter as Hy? Hoef Hy na iemand op te kyk? Nee wat, niks en niemand nie. En die mens? Ons sukkel maar. Mag lê in snaakse plekke. Vir party in roem, ander in rykdom, ander in kennis, ander fisies. Die mens is maar beperk!! Elke enkele mens sal maar die knie buig voor 'n ander mens. En ons almal, sal die knie buig voor God. Want Hy is almagtig. Oneindig magtig. Geen weermag, regering, diktator, niks, kan Sy almag uitdaag nie. God is mag, is oneindig.
· God se geduld is oneindig. Anders as ons mense. Ons geduld is maar vas aan 'n dun draadjie. Ons vererg ons vir alles, kan nie meer wag vir iets nie, en is sommer gou-gou kort van draad. En dan is ons sommer ongeduldig met die Here. Hy gee nie vinnig genoeg nie, praat nie vinnig genoeg nie, perform nie goed genoeg nie. En Hy? Hy is oneindig geduldig!! Hy vererg Hom nie vir ons nie, deel nie sommer 'n dwarsklap uit nie. En wag geduldig dat ons op Sy roepstem reageer.

2 Petr 3 : 9 "Die Here stel nie die vervulling van Sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer."

Hy hou aan en aan om te klop. Moenie Hom laat wag nie. Maak oop.
· God is oneindig genadig. Daar is geen limiet daarop nie. En die mens? Hoeveel genade betoon ons? Is daar dalk iemand wat jy moet vergewe? Dalk 'n paar rand afskryf? Dalk 'n regsaak maar laat vaar? Is daar dalk iemand wie jy skop terwyl hy klaar lê? Sê nou dis hoe God se genade gelyk het. Dan was dit klaar met ons. Sy genade kan nie gemeet word nie!! Dit red ons, en hou ons weg van die hel af. Sy genade is oneindig!
· Laastens - God se liefde vir jou en my is oneindig.

Rom 8 : 31 - 39
31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?
32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.
34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
36 Daar staan immers geskrywe: "Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word."
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte
39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

· Hy is so oneindig lief vir jou en my, dat Hy Sy enigste Seun nie gespaar het nie. En ons as mense? Siestog, ons is maar bietjie pateties as dit by liefde kom. Ons veroordeel, verneuk, moor, besteel, verguis, beskinder mekaar. Ons het nie 'n idee wat liefde is nie. Sê nou maar God het ons so liefgehad soos ons mekaar het? Wat sal van ons word? Niks kan ons van die liefde van God skei nie. Hy is daar!! Altyd, Hy is barmhartig, Hy beplan goeie goed vir ons, Hy ontferm Hom oor ons, en ja, spesifiek in moeilike tye. En nog meer, ten spyte van ons sondes en oortredinge, bly Hy oneindig lief vir ons. Hy skinder nie oor ons nie, vertrap ons nie, is nie ongenaakbaar nie! Geen dood, of lewe of engele ……..

Hy het drome vir jou en my, groot planne, Hy wil ons vorm, skaaf en skuur, juis omdat Hy ons oneindig liefhet. Hy het ons te veel lief om ons te los soos ons is. Hy vorm ons soos 'n pottebakker 'n stuk klei vorm. Sodat ons voorwerpe vir besondere gebruik kan wees. Hy wil spog oor ons!! Omdat Hy oneindig lief is vir ons.

God is oneindig. Niks wat Hy is, of doen, kan ingeperk word nie. Maar Hy is naby. Altyd.

"Hoe kan ek weet wat God se wil vir my lewe is? Wat sê die Bybel omtrent kennis van God se wil in my lewe?"

 "Hoe kan ek weet wat God se wil vir my lewe is? Wat sê die Bybel omtrent kennis van God se wil in my lewe?"Antwoord: Daar is twee sleutels tot kennis van wat God se wil vir ’n gegewe situasie is: (1) Maak seker dat waarvoor jy vra of wat jy beplan om te doen nie iets is wat deur die Bybel verbied word nie. (2) Maak seker dat waarvoor jy vra of wat jy wil doen tot verheerliking van God is en dat dit jou sal help om geestelik te groei. As hierdie twee dinge reg is, maar God gee nog steeds nie waarvoor jy vra nie, dan is dit waarskynlik nie God se wil dat jy moet kry waarvoor jy vra nie. Of dalk moet jy ’n rukkie langer daarvoor wag. Om te weet wat God se wil is, is soms baie moeilik. Mense wil as’t ware hê God moet vir hulle vertel wat om te doen – waar om te werk, waar om te bly, met wie moet jy trou, ens. Romeine 12:2 sê , “Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuut maak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle lewe elke dag aan Hom moet oorgee.”

God gee selde direkte en spesifieke inligting aan mense. God laat ons toe om besluite te neem aangaande daardie dinge. Die enigste besluit wat God nie wil hê ons moet neem nie, is om te besluit om sonde te doen of Sy wil teen te staan. God wil hê dat ons besluite moet neem wat in ooreenstemming met sy wil is. Hoe weet jy egter wat God se wil vir jou lewe is? As jy naby aan God lewe en waarlik Sy wil in jou lewe begeer, dan sal Hy jou hart vul met sy begeertes. Die sleutel is om God se wil te wil volg en nie jou eie nie. “Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê” (Psalm 37:4). As die Bybel nie daarteen is nie en wanneer dit werklik tot jou geestelike voordeel kan wees, dan gee die Bybel jou “toestemming” om besluite te neem en jou hart te volg.

Wat die wêreld nodig het, is rus

Mense hierdie skrywe van hierdie man dring my tot ander insigte in die Lewe wat vir my voorgeskrewe is deur die Jesus wat my liefhet

 

Wat die wêreld nodig het, is rus Prayer is sitting in the silence until it silences us, choosing gratitude until we are grateful, and praising God until we ourselves are an act of praise – Richard Rohr Wat die wêreld nodig het, is rus “Ek sal rus as ek die dag dood is.” Oppervlakkig kan ons hom bewonder – sy wil en vasberadenheid om te werk. Natuurlik sal jy rus as jy dood is – dalk gouer as wat jy dink. Dit is duidelik dat die ontneming van slaap ernstige mediese gevolge mag hê – verhoogde risiko van beroerte, oorgewig, diabetes, verlies aan geheue, ens. Rus maak van jou ʼn beter persoon. Ons leef in ʼn kultuur van sensoriese oorlading. Daarom sukkel ons om te rus. Dikwels is die mees geestelike ding wat jy kan doen om niks te doen nie. Om niks te doen nie, kan alles verander. Net om te sit en na te dink, doen wonders. Ons vrees stilte ons wil nie alleen wees nie – altyd omring deur ander mense. Begin met klein treetjies – stap elke dag vir ʼn paar minute in die natuur. Stap weg van die rekenaarskerm en stap na buite. As jy terugkom is die rekenaar steeds daar. Rus maak van jou ʼn gelukkiger persoon. Baie mense dink dat ons identiteit deur ons besig wees bepaal word. Ons is besige mense. Vra vir iemand hoe gaan dit en jy mag hoor: Besig of dinge is dol. Ons is trots op ons besig wees, maar dit ondermyn ons fisiese, emosionele en geestelike gesondheid. Rus gaan oor ʼn beter lewe. Maak nie saak hoe lank God geneem het om die wêreld te maak nie, maar Hy het gerus na alles gedoen was. Dit was nie dat die Skepper dit nodig gehad het nie, maar Hy wou ʼn patroon vir ons daarstel. Hy wys vir ons hoe om ʼn beter lewe te leef. Volg sy voorbeeld: Sit draai die volume af skakel al jou toestelle af. Dink. Rus. Nie so maklik nie, want dit is moeilik om te ontsnap – jou selfoon kry jou oral – behalwe op plekke in die Wildtuin. RUS MEER The New Testament preaches a Christ who was dead and is alive, not a Christ who was alive and is dead. —James Denney Rus meer Soms voel dit vir ons dat ons nie aan God se verwagtinge voldoen nie. Die gevolg: ons werk harder en wy ons meer volledig aan God toe. Maar nou sê die Bybel dat die antwoord nie is om harder te werk nie, maar om beter te rus. Eers as ons leer om in Jesus te rus, sal ons die krag hê om vorentoe toe te gaan. Maar nou leef ons in ‘n kultuur wat chronies oorwerk is. Ons weet dit is nie goed vir ons nie, maar ons voel ons moet die vinnige pas volhou. Werk is immers hoe ons kos op die tafel sit. Nog belangriker: werk is ons bron van identiteit. Daarom probeer ons gedurig om onsself te bewys – ons waarde word deur ons werk bepaal. Gelukkig kom Hebreërs 4 met ‘n belofte van rus vir dié wat glo. Net Christus kan daardie innerlike rus voorsien – sonder Christus sal ons werk al rus ons met Christus rus ons al werk ons. 01/1/2016 www.bybelkennis.co.za/tag/rus?print=print­search http://www.bybelkennis.co.za/tag/rus?print=print­search 2/2 Christus is ons geregtigheid. Ons probeer ons lewe lank om onsself te regverdig – om ons foute te verminder en ons deugde te oordryf. Ons voel onbelangrik, naak en blootgestel. Daarom is titels en prestasies so belangrik vir ons. Die evangelie vernietig hierdie vals regverdiging wat ons gebruik om onsself te bedek die evangelie bied Christus se geregtigheid as gawe vir ons aan. Geklee in sy geregtigheid kry ons die liefde en aanvaarding wat ons nog altyd wou hê. As gevolg van sy geregtigheid is daar niks wat ons kan doen om te verseker dat God ons meer – of minder – liefhet nie. Christus is ons identiteit. Ons kan nooit rus as ons identiteit in ons werk kry nie. Dan moet ons voortdurend veg om ons waarde te bewys. Ons baklei om te bewys ons is iemand, want ons probeer desperaat om ons identiteit te vestig. Ons hele lewe lank probeer ons onsself bewys en dit is uitputtend. Maar die evangelie sê iets anders: as God met ons is wie gee dan om vir die res van die wêreld. Ons kan rus in Christus, want ons het ʼn nuwe, permanente identiteit as God se geliefdes. Christus is ons sekerheid. Dit is moeilik vir ons om te aanvaar dat ons nie alles kan beheer nie – ons kan nie vir elke moontlikheid voorsien nie. Nou is ons gespanne, want ons dra ‘n las wat God nie bedoel het ons moet dra nie. Die gevolg is geen afdae en geen vakansies nie. Omdat ons absolute sekerheid wil hê, kan ons nooit ontspan nie. As ons verstaan dat die Here die huis bou en die stad beskerm hoef ons nie vroeg op te staan nie – die Here gee dit in ons slaap (Psalm 127:1 – 3) Christus is ons prioriteit. ʼn GPS is ʼn interessante sisteem. Die stem weet altyd waarheen ek op pad is en sê wanneer ek moet draai. As ek verkeerd ry, pas sy die roete aan. Maar die GPS werk net as ek ʼn duidelike bestemming het – alles wat die GPS doen, is gerig op daardie bestemming. Die lewe is net so. Dit is verbasend dat ons so selde vra waarheen ons op pad is. So dikwels het ons geen prioriteit in ons lewens nie. Nou moet ons by elke vurk in die pad alle keuses oorweeg – en ons is nooit seker dat ons die regte besluit geneem het nie. As Christus ons prioriteit is, het ons ‘n kompas vir ons besluite. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (Matteus 6:33). Nou hoef ons ons nie oor al hierdie ander dinge soos geld, verhouding, ons werk te bekommer nie. Ons fokus net op trou aan Hom. As Christus eerste in ons lewens is, kry ons alles wat ons nodig het

'n Honger maag is die beste kok'

'n Honger maag is die beste kok'

Chris Barnard

Die skrywer Chris Barnard se derde roman, Boendoe, het onlangs verskyn. Deesdae hou hy sy lyf ook boer op sy sitrus-plaas in Mpumalanga. Hier deel hy 'n paar wyse woorde oor die kuns van vleisbraai met Pols-lesers. ``Van die kookkuns weet ek minder as 'n kat van saffraan. Ons soort is dadelik by om 'n goeie kok toe te juig, maar wanneer jy self iets moet gaar kry, verloor jy oombliklik al jou kieskeurigheid. Die ou gesegde bly nog altyd waar: 'n honger maag is die beste kok. ``Nou is dit so dat ek soms alleen op my lappie aarde onder in die Laeveld sit, as sit die regte werkwoord is. Dis meer hardloop as sit. Maar so in die hardloop is ontbyt dalk 'n halwe papaja en middagete die ander helfte van die papaja. ``Daarom word aandete 'n kwessie. En daar is geen beter manier om daardie kwessie aan te spreek as 'n lappie vleis op die kole nie. ``Moet my dus nie van braaivleis of vleisbraai probeer vertel nie. Ek weet als. ``Wat mettertyd oorvloediglik begin blyk het, is dat vleisbraai net so omhul is van vals mites en ouvroustories as enige ander vorm van kookkuns. As jy na die sogenaamde kenners luister, dan word daar ure gepraat oor hoe jy jou braaisous moet voorberei, hoe ryp die vleis moet wees, hoe lank dit gemarineer moet word, of jy die vleis gereeld moet omdraai of nie, en hoe warm of koud jou kole moet wees. ``Alles bog. ``Die drie kardinale vrae is: hoe moeg is jy, hoe honger is jy en hoeveel goeie wyn het jy? ``Vreemd hoeveel wonderlike lesse 'n mens per abuis leer. Aan die begin het ek my vuurmaakhout op 'n baie spesifieke manier gepak, my lamsvleis en hoender ure lank gemarineer, niks naby die vuur gebring voor die kole nie presies reg is nie, sekere soorte vleis elke minuut omgedraai, ander soorte elke twee minute. Ritse en ritse moets en moenies. ``Daar is 'n verskynsel in die Laeveld wat ek gedoop het die `braavleisreëntjie'. Sewe-uur in die aand, nes jy die vuurhoutjie trek om die hout aan die brand te steek, val die eerste druppels, totaal onaangekondig. Sommer uit so 'n lawwe los wolkie uit. En dit reën katte en honde tot jou vuur ordentlik dood is. Dan: weg is die reën en doer agter die wolke uit glimlag 'n ondeunde maan. ``Nadat ek die hoeveelste keer honger gaan slaap het, werk dit deesdae anders. Ongeag wat die wolke beduie, gooi ek 'n hopie vuurmaakhout op gisteraand se as, steek dit aan die brand, plak 'n rooster met vleis (nie hoender nie!) in die vlamme en hou dit daar tot dit ruik na skroei, draai die rooster om en skroei die ander kant. Voila! ``Die reën vang my nog gereeld, maar 'n vuur vol vlamme vrek nie so maklik soos 'n bak vol lou kole nie. ``As iemand toevallig die aand saam eet en hy vra drie bottels wyn later hoe kry ek dit reg dat die vleis so heerlik sag en geurig is, sug ek iets soos: `Ag, dit kom maar met jare se waaghalsige ondervinding . . .' ''

Wanneer ek bid

N DAG SE BROOD


Matt 6:7-13
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. “So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose”.
 

Die Onse Vader gebed. In hierdie gedeelte leer Jesus Sy dissipels hoe om te bid. Die doel van hierdie gebed is nie om 'n vrye gesprek met God te vervang nie, maar wel 'n voorbeeld van `n gebed wat eintlik alles insluit wat nodig is om te bid. Ek glo dat Jesus alles baie goed deurdink het voordat Hy hierdie woorde met hulle gedeel het, en dat Hy presies geweet het wat Hy aan hulle wou oordra. 

Ons konsentreer egter vandag op vers 11: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”.

Kom ons pas die woorde ’n  bietjie aan vir die doel van hierdie stukkie: Gee ons vandag (hierdie spesifieke dag) genoeg om ons te voed en versorg vir hierdie dag van vandag. Nie genoeg vir vandag, môre, hierdie maand en volgende maand nie. 

Ek bid 'n paar jaar gelede een oggend tydens stiltetyd vir meer bestellings, want die besigheid was te stil na my sin en ek was bekommerd. En toe spring hierdie einste teks in my kop in. Gee my vandag my daaglikse brood. Oftewel, gee vir my genoeg werk om inkomste te genereer vir een dag. Net daar verander my perspektief en skielik voel dit wonderlik as daar werk vir 'n paar dae in een dag inkom. Jy sien, dis lekker as die Here versorg deur werk/geld/brood/versorging te gee vir 'n paar weke vooruit. Dan spog ons mos graag dat die Here so goed is vir ons. 

Miskien het ons almal so 'n oorblyfseltjie van die “goeie ou dae”, toe werk volop was en salarisse elke jaar flink gestyg het. Dalk was ons vertroue daardie tyd meer in ons salarisse en werk sekuriteit, maar die Here wil hê ons moet Hom genoeg vertrou vir versorging vir een dag op 'n slag. 

Hoe lyk dit vandag in jou koskas? Het jy genoeg kos vir een dag, of dalk sommer vir ’n paar dae of selfs weke vooruit? Ek dink die meeste van ons kan “ja” antwoord op hierdie vrae; ek dink egter ook dat die meeste van ons sukkel met onnodige kommer oor die dag van môre. 

Eks 16:1-4
Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.” Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie.

Eks 16: :13-18
Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar 'n wolk rondom die kamp, en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.” Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander 'n bietjie, en toe hulle dit met 'n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met 'n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.  

Dieselfde beginsel van een dag se brood is ter sprake in hierdie Skrifgedeeltes uit Eksodus. Die opdrag van die Here aan Moses was dat die volk net genoeg moes optel vir een dag, behalwe op die sesde dag wanneer hulle genoeg moes optel vir twee dae, want daar was niks uit die hemel op die Sabbatdag nie. Hiermee leer die Here ook vir ons om vandag genoeg te werk en bymekaar te maak vir een dag op ’n slag. Dis seker goed en reg om ook ietsie ekstra bymekaar te maak en weg te sit vir die oudag, maar die Here se boodskap in Matt. 6:11 is baie duidelik: as jy genoeg het vir vandag, dan het Hy sy belofte van versorging ten volle nagekom en behoort ons vir niks meer te vra nie.  

Maar kry ek en jy dit regtig reg? Hoekom sukkel ons dan so met tevredenheid as ons net-net genoeg het? Hoekom kan ons nie insien dat vandag se brood primêr dit is wat ons nodig het nie? Hoekom skuif ons die lat al hoe hoër en verder? Is dit dalk gebrek aan vertrou in die Here, of is dit dalk vrees? Of is dit dalk gulsigheid en gierigheid (“greed”)? Of is dit sommer net ’n rebelsheid of jaloesie omdat die Joneses langsaan meer het?  

As daar staan: “gee”, dan beteken dit dat ons nie die versorging by God kan koop nie. Die “gee” kan wees: gee my die gesondheid en krag om te doen wat ek moet en wat ek kan. Aan die ander kant verwag Hy sekerlik dat ons die talente en vermoëns wat Hy ons gegee het sal inspan om dit te bekom wat nodig is. Dit alles (gesondheid, krag, gawes, talente) is ’n gawe uit God se hand en ons verdien dit nie.  

Indien die Here ons wel bederf met meer brood as wat nodig is vir één dag, mag Hy dalk verwag dat ons daardie ekstratjie sal deel met diegene wat tans nie die vermoë het om vir hulleself te sorg nie. Ons moet dan seker vir hulle ook net genoeg gee vir een dag.  

As daar staan “daaglikse brood” wonder ek wat dit dan behels? Is dit wat nodig is vir basiese behoeftes vir oorlewing? Is dit kos en klere? Of miskien ook ’n vakansie en bietjie luukshede? Wel, die Here seën vir die meeste van ons met ’n konfytjie vir die brood ook en dis wonderlik. 

Ek hoor oor die nuus van ’n bankier oorsee wat verlede jaar R221miljoen verdien het. “Verdien?” Het hy dalk gebid: “Here gee my vandag R605 000 vir hierdie dag?” Miskien gee hierdie syfer ’n prentjie van dit waarin die wêreld al verval het, want nou dink ek mos ook dit sal darem lekker wees as my daaglikse brood gelyk is aan R605 000! Ek sidder by die gedagte, want ek dink dit sal nie van God afgebid wees nie, maar van Mammon af. 

Gee my asb. brood vir vandag, genoeg vir vandag. Here, dit is my gebed vir hierdie dag. Vader, leer my dat u môre steeds hier sal wees om my vir môre te versorg en die dag en dae daarna. Vader, herinner my aan al die dae van my lewe tot nou toe waar U dag vir dag getrou was en elke dag genoeg voorsien het, al het ek baie dae gedink ek gaan dit nie maak nie. Here, herinner my aan die wonderwerke wat sóveel kere op my pad gekom het op tye toe ek dit die minste verwag het. Here, dankie vir die tye toe daar oorvloed was, genoeg vir mooi dinge, lekker vakansie en heerlike bederfies. Dankie dat U ook voorsien het toe daar skool- en universiteitsgelde betaal moes word en rekeninge wat soms buite my bereik gelyk het. En Here, daardie dae toe krisisse oor my pad gekom het, soos toe die motor gebreek het, het U ook uit ’n onverwagse oord ’n meevallertjie gestuur. Here, maar ek wil vergifnis vra dat ek so min dankie gesê het en so baie gedink het dis uit my eie toedoen en vermoëns dat ek goed kan leef. Vader, vergeef my dat ek my gesondheid sommerso as ’n gegewe aanvaar. Wys my ook waar ek ’n bietjie van my oorvloed kan gaan aanwend waar iemand in nood dalk bid: “gee my vandag my daaglikse brood”.
Here, maar hier sit ons nou vandag. U ken my omstandighede, U weet by wie dit bietjie swaar gaan en waar daar moedeloosheid is en selfs depressie oor armoede en ’n voortdurende gesukkel om te oorleef. Ek vra vir genoeg brood vir hulle vir vandag. Net dit.
Here, waar so baie mense, veral ouer mense, so sukkel om kop bo water te hou, vra ons vandag vir barmhartige Samaritane om ’n hand uit te steek.

Doulos kom se dankie vir die jaar se werksaamhede

DOULOS ARMOEDEBEDIENING kom se dankie vir die jaar 2015 se werksaamhede:



Dank aan die Vader wat ons ʼn geseënde jaar laat beleef het

Dank aan al ons skenkers van geld wat dringend nodig was om die besigheid te help om daagliks te kon voorsien in al ons behoeftes

Dankie aan alle skenkers van klere

Dankie aan alle skenkers van meubels en elektriese ware

Dankie aan alle skenkers van baba klere

Dankie aan alle skenkers van baba klere

Dankie aan alle skenkers van beddegoed en Gordyne

Dankie aan alle skenkers van items waarvan nie uitgedeel kon word nie en u in die erkenningstrokies aangedui het dat dit omgesit kon word in geld waarmee ons voertuie, kantoor huur ens. kon betaal

Dankie aan alle skenkers wat gereedskap beskikbaar gestel het

Dankie aan skenkers vir die nuwe voertuig waarmee ons goedere kan gaan haal en wegneem

Dankie vir skenkers van Wendys(5) waar ons voorskoolse klasse kon begin in Danville en Elandspoort en Waverley

Dankie vir skenker wat duisende Kg mieliemeel verskaf het

Dankie vir Vrywillige werkers wat tydig en ontydig gepla was om te kom help met herverpakking van kos en klere

Dankie vir Minimalistics Middelburg wat ons rekordhouding en ouditering van elke item wat ons ontvang het en elke item wat weer die kantoor kompleks verlaat het in ons rekeninge bestand gehou het

dankie vir vrywilligers wat weekliks vrywilliglik gehelp het met die inlees van alle data by ons kantore

Dankie vir alle skenkers van leë houers en karton houers wat ons ontvang het en kon omsit in geld wat weer ʼn groot hulp was vir instandhouding

Dankie vir vrywilligers wat elektriese ware help herstel het en die skroot daarvan verwyder het

Dankie vir die skenkers wat ons terrein help instandhou en die uitleg van n netjiese tuin op die sypaadjie

Dankie vir die werker wat gehelp het om ons kantoor op te gradeer en netjies gemaak het

Dankie vir skenkers wat bydraes gemaak het met die hek motor se instandhouding

Dankie vir die werker wat bereid was om daagliks ons hele werkterrein bestand te hou

Dankie vir 11700 vriende op ons 4 FB en ons webblad wat elkeen hulle gewig ingegooi het op n daaglikse, weeklikse en maandelikse basis dit het ons deurgedra in 2015

Dankie vir ons donateurs van 17088 komberse die afgelope winter dit was wonderlik dat dit voorsien het in alle behoeftes

Dankie aan al die skenkers van vleis waarvan ons 7000 kg kon in en uit

Dankie aan die skenkers van vrugte en groente met ʼn waarde van R11.5miljoen gedurende 2015

DANKIE AAN ONS DIREKTEUR FINANSIES VIR N BAIE GESONDE VERSLAG HIERDIE JAAR VAN KLERE, KOS, FINANSIES EN ANDER . ONS AS GEREGISTREEDE NPO HET: R13 MILOEN RAND SE KOS KLERE, FINANSIES EN ANDER GOEDERE INSLUITEND BEDRYFS KOSTES EN INSTANDHOUDING GEIN EN R13 MILJOEN RAND UITGEGEE EN SODOENDE N PERFEKTE 0% BALANS GETOON dit wil gedoen wees

Dankie dat ons 25 kampe heeltyds op n weeklikse basis kon voorsien van kos, klere en ander

Dankie dat ons 25 bejaardesorg tehuise kon voorsien van kos elke week

Dankie dat ons kos kon voorsien aan Dwelm verslaafdes en drank verslaafdes

Dankie dat ons 1883 kinders en grootmense kon voorsien van klere, hulpmiddel leermateriaal en klerasie

Dankie dat ons kon hulp en bystand voorsien aan 350 straatkinders op die winkelstoepe van Pretoria

Dankie dat ons honderde enkellopende ouers kon help met kos en klere

Dankie dat ons 12 kinderhuise in en om Pretoria kon help met kos en klere

Dankie dat ons honderde mense by Doulos kantoor kon help om te bad, te skeer, hare te doen en te sny en te help met hul CV's en om werk te kry

Dankie dat ons die voorreg kon hê om 722 gesinne te kon uitlig uit hul ellendes en weer kon terugplaas in die hoofstroom mense in die private sektor

Dankie dat ons die bejaardes in Elandspoort kon ophelp kos en klere en noodhulp middels kon voorsien en so hul menswaardigheid weer herstel het

Dankie dat ons kindertjies kon voorsien van die nodige hulpmiddel nadat hulle deur die howe weggevat was waar hulle gemolesteer was

Dankie dat ons ʼn bydra kon maak by kinders met outisme om n beter bestaan te maak

Here dankie daarvoor en dat ons kon werk aan die totale barmhartigheid werk hier in Pretoria en omliggende gebiede

Moet om te weet

Ons sluit die Ou Testamentiese gedeelte van die verhaal van Jesus se geboorte af met 'n paar uitsprake wat profete gemaak het.

Profetiese perspektief is iets wat ons dikwels baie moeilik verstaan. Dikwels het die profeet wat die uitspraak gemaak het, sélf nie werklik verstaan waarom hy iets juis op dáárdie besonderse manier gesê het nie. Dit is soos om naby 'n lae berg te staan. Wat sien jy? Slegs die berg voor jou, want hy versper totaal jou uitsig. Wat jy dalk nie besef nie, is dat daar nóg 'n berg agter hierdie een is, en 'n ent verder 'n baie hoë berg. Profetiese perspektief beteken dat die profeet praat van die berg hier voor hom, maar dat hy eintlik die groot berg daar ver beskryf, dikwels sonder dat hy sélf daarvan bewus is.

In die Ou Testament kry ons talle plekke waar daar profesieë gemaak is oor Jesus, maar waar die uitspraak oorspronklik gemaak is oor iets totaal anders.

Lees byvoorbeeld wat Jesaja vir Koning Agas gesê het in Jesaja 7:14. "Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal Hom Immanuel noem." Koning Agas was baie benoud toe die Arameërs hulle land binneval. Jesaja het hom egter gerus gestel en gesê dat hy kan ontspan want die Here sal hulle red. Hy sal vir Agas 'n teken gee dat Hy hom wél sal verlos: die jong vrou wat swanger sal word. Sy sal haar baba Immanuel noem, wat beteken: "God is by ons." Maar Jesaja se uitspraak het véél verder gestrek, en is eintlik gerig op Jesus.

In die volgende hoofstuk (Jes. 8) kondig die profeet die oordeel oor Juda aan. Maar dan sluit hy die hoofstuk af met 'n wonderlike troos: "Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie" (V. 23). En hy begin hoofstuk 9 met: "Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien." Hierdie Lig verwys natuurlik na die Messias wat 700 jaar later sou kom. Maar eers moes die ballingskap plaasvind en Juda swaar ly oor hulle ongehoorsaamheid.

In vers 5 beskryf Jesaja hierdie Messias, as hy sê dat daar vir ons 'n Seun gebore is, 'n Seun gegee is. "Hy sal heers," skryf Jesaja jubelend van opgewondenheid, "en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors."

Verder sê Jesaja: "Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor Sy koninkryk regeer."

'n Honderd en vyftig jaar later, terwyl die volk swaar sug waar hulle in ballingskap is, skryf 'n ander profeet onder die naam van Jesaja dat die uitkoms hier is! (Jes. 40:1). Hy skryf oor Johannes die Doper, dat hy (Iemand) roep: "Maak vir die Here 'n pad in die woestyn!" Dan gee die Here onder meer die opdrag dat hy vir die stede van Juda moet sê: "Julle God is hier!" Ja, Hy is soos 'n Herder wat Sy kudde bymekaar maak, die lammers in Sy arms hou en hulle teen Sy bors vashou (v. 11).

In Jesaja 42 beskryf die profeet die Messias as 'n "Dienaar". Hy sal God se wil aan die nasies bekend maak. Maar Sy stem sal sag wees en Hy sal nie 'n geknakte riet breek of 'n lamppit wat rook uitdoof nie.

Die boek Jesaja is deurspek van uitsprake oor Jesus. Dié wat hier genoem is, is slegs enkeles van hulle.

Maar Jesaja is nie die enigste profeet wat oor Jesus praat nie. 'n Tydgenoot van Jesaja, die profeet Miga skryf ook van die Messias wat gebore sou word. Miga 5:1 lees: "Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families van Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort, en Hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug in die gryse verlede."

Hosea 11:1 sê dat Jesus as baba na Egipte sou vlug.

Jesaja 53:4 vertel van Jesus se lyding.

Jesaja 11:1 en 10 verklaar dat Jesus uit die nageslag kom van Isai, Dawid se pa.

Jesaja 42:1-4 beskryf hoedat Jesus met die Gees van God gesalf sal word.

Sagaria 9:9 beskryf Jesus se intog in Jerusalem op die rug van 'n donkie.

Psalm 110:1 beskryf die Koningskap van Jesus.

Daniël 7:13 beskryf Jesus se koms.

Sagaria 11:12 beskryf Judas se verraad vir slegs 30 silwerstukke.

Hierdie is maar enkele van die talle profesieë wat uit die Ou Testament kom om die koms van Jesus, Sy lyding en Sy werk te voorspel. Sommige hiervan is tot so ver terug as 1000vC reeds gemaak. Die kanse dat dit bloot toeval sou wees dat al hierdie voorspellings sou waar word, is absoluut NUL!

As gelowiges het ons nie bewyse nodig om te verklaar dat alles wat in die Bybel oor Jesus geskryf is, waar is nie. Ons geloof in Hom is oorgenoeg. Maar God se genade is só groot dat Hy ons geloof op hierdie wonderlike wyse kom versterk deur te verklaar dat alles absoluut waar is!

Gebed:

Here, dankie vir die profete wat aan U gehoorsaam was, duisende jare gelede, om te skryf oor dinge wat hulle sélf dikwels gladnie verstaan het nie. Help my vandag om onvoorwaardelik te glo.

Strandlopertjie

Strandlopertjie

Vinnig skarrel
trippel pare bene
op en neer
Stop-stop, pikkend
aan te drawwend
spieëlbeeld omkeer
op die sand
Golwend ritmies
heen en weer
die sand nattend
in te kleur
Herhalend soekend
elkander steeds
aan te vullendStrandlopend
branderbrekend

LOOF EN PRYS SY NAAM

Sing van harte tot eer van die HERE

"Ek wil U loof onder die volke, o HERE, en psalmsing tot u eer, onder die nasies;" Psalm 108:4.

In die tyd van Dawid was daar sekerlik ook mense wat hulle godsdiens beoefen het sonder dat hul harte daarin was, soos dit vandag steeds die geval is. Ons sing soms uit volle bors saam met die gemeente “God het ek lief” sonder dat daar werklike liefde in ons harte is. Of: “Wie het ek in die hemel, HEER wie kan ek newens U begeer?.....dan sal U wees vir my gemoed my rots, my deel, my eew’ge goed" (Ps 73), terwyl ons gedagtes tegelyker tyd ver weg is by ons stoflike sake en ons laasgenoemde feitlik as ons hoogste goed beskou.

Dawid sê: Ek wil sing, ek wil sing tot eer van die HERE. Dit kom uit Dawid se hart, hy word spontaan daartoe gedryf. Hierdie egtheid in sy lied, hierdie diepe blydskap spruit voort uit die rustigheid wat hy by die HERE ondervind.

Dit is iets om jaloers oor te voel. Want hier is die Bybelboodskap: dat daar rustigheid te vind is in die woelinge van die verbygaande lewe.

Dit is die rustigheid wat ons in die geloof ontvang. Die rustigheid omdat ons weet dat God met liefde en wysheid regeer. Die rustigheid van ons oortuiging dat ons op pad is na ons groot oorwinning saam met Jesus Christus.

En dit is ware rustigheid, in werklikheid die enigste rustigheid. Want ons kan alleen rustigheid ontvang as die dinge van die ewigheid in ons lewe is.

Dit is ook die groot troos as die aand van die lewe oor ons begin daal en die lewe hier sy einde nader. Daar is dan geen mooier  aandgloed in jou lewe as hierdie rustigheid en vrede wat jou dryf om spontaan te sing nie. Jy ontvang dit deur jou oorgawe aan God se liefde en jou 

tot eer van die HERE

Sing van harte tot eer van die HERE

"Ek wil U loof onder die volke, o HERE, en psalmsing tot u eer, onder die nasies;" Psalm 108:4.

In die tyd van Dawid was daar sekerlik ook mense wat hulle godsdiens beoefen het sonder dat hul harte daarin was, soos dit vandag steeds die geval is. Ons sing soms uit volle bors saam met die gemeente “God het ek lief” sonder dat daar werklike liefde in ons harte is. Of: “Wie het ek in die hemel, HEER wie kan ek newens U begeer?.....dan sal U wees vir my gemoed my rots, my deel, my eew’ge goed" (Ps 73), terwyl ons gedagtes tegelyker tyd ver weg is by ons stoflike sake en ons laasgenoemde feitlik as ons hoogste goed beskou.

Dawid sê: Ek wil sing, ek wil sing tot eer van die HERE. Dit kom uit Dawid se hart, hy word spontaan daartoe gedryf. Hierdie egtheid in sy lied, hierdie diepe blydskap spruit voort uit die rustigheid wat hy by die HERE ondervind.

Dit is iets om jaloers oor te voel. Want hier is die Bybelboodskap: dat daar rustigheid te vind is in die woelinge van die verbygaande lewe.

Dit is die rustigheid wat ons in die geloof ontvang. Die rustigheid omdat ons weet dat God met liefde en wysheid regeer. Die rustigheid van ons oortuiging dat ons op pad is na ons groot oorwinning saam met Jesus Christus.

En dit is ware rustigheid, in werklikheid die enigste rustigheid. Want ons kan alleen rustigheid ontvang as die dinge van die ewigheid in ons lewe is.

Dit is ook die groot troos as die aand van die lewe oor ons begin daal en die lewe hier sy einde nader. Daar is dan geen mooier  aandgloed in jou lewe as hierdie rustigheid en vrede wat jou dryf om spontaan te sing nie. Jy ontvang dit deur jou oorgawe aan God se liefde en jou geloof in Christus Jesus. Dan is die dood nie meer jou vyand nie, maar jou oorwinning.

Wat is die sondaarsgebed?

"Wat is die sondaarsgebed?"Antwoord: Die sondaarsgebed is ’n gebed wat iemand tot God bid wanneer die persoon besef dat hy/sy ’n sondaar is en dat hy/sy ’n Verlosser nodig het. Om net ’n sondaarsgebed op te sê is nie genoeg nie. ’n Sondaars gebed is slegs effektief wanneer dit ’n persoon se ware kennis, begrip en geloof van sy sondigheid en die noodsaaklikheid vir redding, verteenwoordig.

Die eerste aspek van ’n sondaarsgebed is om te verstaan dat ons almal sondaars is. Romein 3:10 sê, “Die Bybel stel dit baie duidelik: Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie.” Die Bybel sê baie duidelik dat ons almal gesondig het. Ons is almal sondaars wat genade en vergifnis deur God nodig het. (Titus 3:5-7). Ons verdien die ewige verderf as gevolg van ons sonde (Matteus 25:46). Die sondaarsgebed is ’n smeking om genade in plaas van oordeel. Dit is ’n versoek om genade in plaas van woede.

Die tweede aspek van ’n sondaars gebed is om te besef wat God gedoen het om ons verlore en sondige toestand reg te stel. God het as mens aarde toe gekom in die Persoon van Jesus Christus (Johannes 1: 1,14). Jesus het vir ons kom leer oor die waarheid van God en het ’n volmaakte, regverdige en sondelose lewe gelei (Johannes 8:46; 2 Korintiërs 5:21). Jesus het toe in ons plek aan die kruis gesterf en daarmee die straf wat ons verdien, op Hom geneem (Romeine 5:8). Jesus het uit die dood opgestaan om sy oorwinning oor sonde, die dood en die hel te bewys (Kolossense 2:15; 1 Korintiërs 15). As gevolg hiervan kan ons sonde vergewe word en is ’n ewige tuiste in die Hemel moontlik – as ons net in Jesus Christus glo. Al wat ons moet doen is om te glo dat Hy in ons plek gesterf het en dat Hy uit die dood opgestaan het (Romeine 10:9-10). Ons kan slegs deur genade gered word, slegs deur geloof, in Jesus Christus alleenlik. In Efesiërs 2:8 staan: “Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou.”

Om die sondaarsgebed te bid is ’n manier om aan God te sê dat jy op Jesus Christus as jou Verlosser vertrou. Daar is geen “tower” woorde wat redding tot gevolg het nie. Dit is alleenlik wanneer ons glo in Jesus se dood en opstanding dat ons gered kan word. As jy besef dat jy ’n sondaar is en Jesus Christus se verlossing nodig het, kan jy hierdie eenvoudige sondaars gebed vir God bid: “Here, ek weet dat ek gesondig het. Ek besef dat ek die gevolge van my sonde verdien. Maar ek glo in Jesus Christus as my Verlosser en ek glo dat ek deur Sy dood en opstanding, vergifnis ontvang het. Ek glo in Jesus en Jesus alleen as my Here en Verlosser. Dankie Here, dat U my gered en vergewe het! Amen!”

want die koninkryk van God is binne-in julle

Lukas 17:20-37

“...want die koninkryk van God is binne-in julle.” (:21)

Net soos in die tyd wat Jesus Christus as mens op aarde gewandel het, is daar vandag ook soveel mense wat ywerig probeer uitvind wanneer die koninkryk van God dan sal kom.  Dit is ongelukkig hartseer dat baie mense na hierdie antwoord soek, nie omdat hulle met reikhalsende verwagting daarna uitsien nie, maar eerder omdat hulle ‘n vrees het vir die skielike koms daarvan wat hulle onverhoeds sal betrap.

Daar is mense wat nie die sinlike genot van hierdie wêreld wil prysgee ten einde die koninkryk van God te dien nie, maar ook nie hierdie koninkryk wil misloop nie.   Hulle probeer dus vasstel wanneer die koninkryk van God sal kom, omdat hulle reken dat hulle mos dan hul ydele lewenswandel kan voortsit tot net voor die dag van finale oordeel aanbreek om hulle dan tot God te bekeer en sodoende die koninkryk van God inderwaarheid te kan binnedring.

Bogenoemde ingesteldheid is regtig bejammeringswaardig, aangesien mense met hierdie siening ‘n totale wanpersepsie van God se koninkryk het.  Hulle sien dit as ‘n eng stel reëls wat ‘n mens moet nakom wat jou geluk en vryheid ontneem.  Laasgenoemde getuig daarvan dat hulle God nie waarlik ken nie, want dan sou hulle besef het dat die reëls en insettinge wat God vir ons deur Sy Woord gee, tot ons beswil en beskerming is.  Dit beskerm ons teen die aanslae van die duiwel wat soek waar en hoe hy verwoesting kan aanrig.  Wanneer hy dit regkry om ‘n mens weg te rokkel van die regverdige verorderinge van God waardeur Hy ons beskerm, kan hy daardie persoon in sy weerlose staat ordentlik verniel en skade berokken.

Die woorde van vers 21 van die gelese gedeelte laat ons opnuut besef dat die koninkryk van God nie iets is wat maar net in die verre toekoms vir gelowiges wink nie.  Dit is ook nie iets wat eers sal aanbreek wanneer ons eendag doodgaan nie.  Die koninkryk van God is nie beperk tot die hemel nie, maar Sy koninkryk is ook hier op aarde.  Ons hoef nie te wag om dood te gaan om te begin deel in Sy koninkryk nie.  Hy leef en regeer in elke wedergebore kind van Hom se hart en se lewe.  Wanneer ons Hom in ons lewens inlaat as die Hoof en Heer van ons lewens, sal Hy plaasneem op die troon van ons harte om vandaar ook ons lewens te regeer.  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  (Open. 3:20).  Dit is dan wanneer ons ons liggaam as tempel stel vir Hom om in te woon sodat Hy deur my lewe Sy koninkrykswerk kan verrig.  Dit is dan wanneer ek deelvorm van die liggaam van Christus hier op aarde waarvan ons lees in 1 Kor. 12 en wanneer ek ywerig die taak wat my toebedeel is, verrig.

Here U weet hoe voel ek

 Pssalm 139: "Here U weet hoe voel ek, U ken my sit en my opstaan, U weet alles van my."

Ons is so geneig om in ons gebede te dink aan die verlede as ons dankie sê en dat ons ook dink aan die toekoms as ons asseblief vra. My gedagtes staan stil by die plek waar ek nou is. Ek kan nie wegkom van die dinge wat ek nou voel en dink nie.

Ons vra nie die Here: Ek het 'n probleem en verstaan my asseblief? Ons vra nie die Here dat Hy my nou moet duidelikheid gee oor 'n saak nie, of dat Hy nou kalmte gee nie. Ons verraai daardeur soms iets van ons vertroue op ons eie kragte en dink nooit daaraan dat ons eintlik moet vou en op ons knieë inmekaar voor God moet neersak en net huil nie. Of net daar gaan sit en vra dat die Here 'n mens se emosie en wese moet oorneem en dat jy net praat oor jou bekommernisse en jou kinders en jou man of vrou en oor jou geldsake.

Die vrouens is mos so lief om uit te vaar en gal af te gaan en te kla en te stoei, en dan is die mans gereed met oplossings of beleef die manne dit as aanvalle en stoei die manne met hulle liefdes in hulle lewens, terwyl die vroue daarna net sê dat hulle wou net afpak en uitblaas en net sommer sê.

Ek dink dis daardie 'net sommer net sê' wat die Here wil hoor, want dan is jy in die regte stemming voor jou Vader, voor die Een wat jou gemaak het. Dis daar waar jy regtig mag kwaad word en waar jy regtig mag huil en waar jy regtig kan kla en dis ook daar waar jy regtig rus kry vir jou gemoed. Daar kom sit Hy self by jou en daal daar 'n rustigheid oor jou omdat Hy jou ken en weet wat jy nodig het om te kan bestaan en te kan oorleef in hierdie wêreld waar ons dit net-net maak om te oorleef.

Toe Jesus vir Sy dissipels gebid het, het Hy ook gevra dat die Vader na AL Sy dissipels moet omsien en dit het beteken dat dit ook vir my en vir jou bedoel is. Daarin kon ons sien hoe smeek Jesus en hoe verduidelik Hy en hoe praat Hy met Vader oor my en jou en oor die wat Hy agterlaat. Dis 'n Man wat duidelik laat blyk dat Hy en die Vader oor goed – of oor mense - praat wat baie na aan Sy hart is. Dit is vir Hom belangrik dat ons dit moet hoor en sien en weet dat Hy hierdie gesprek met Sy Vader het. 

Ons kan ook so met Vader praat en ons kan ook ons hart skoonmaak en met Hom praat oor ons bekommernisse en oor ons dinge wat naby aan ons hart lê. Gaan en bid en praat met die Vader oor hoe jy nou voel. Vertel Hom dat Hy kan weet dat jy in kontak is met jou eie gevoelens en dat jy dit met Hom wil deel.

GEBED: U ken my, Vader, U weet hoe ek voel. U ken my omgee en my liefde vir my kinders. U weet hoe graag wil ons hulle van die wreedheid van hierdie wêreld bewaar. Seën ons, Vader, dat ons minder sal bekommer en meer sal juig. Amen.

Die Koning kom

“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? …. Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Matteus 11:16a, 17a

In hierdie seisoen van afwagting op die herdenking van Jesus se geboorte, in die 15e Adventseisoen sedert die 2de millennium, doem Johannes die Doper se vraag vanuit die gevangenis waar hy deur Herodus gevange gehou en later onthoof is, weer by my op. Hy stuur 'n boodskap aan Jesus met die vraag: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ʼn ander een verwag?”(Matteus. 11:2b). Vir Johannes was dit eksistensiёle vraag: Was sy lewe en prediking tevergeefs? Het die hoop dat Jesus die Messias is, beskaam? Het hy ʼn fout gemaak en in die proses sy lewe op die spel geplaas? Was daar nie dalk ʼn ander Messias met ʼn beter geslagslyn, wat erens in ʼn paleis gebore is nie?

Soos Johannes die Doper ken ons ook al die kentekens van die Messias maar ons soek hom dikwels elders. Ons word verlei deur die beloftes van talle ander redders op ons pad. Verslaafdheid aan besittings, sukses, sekuriteit, weelde, selfsug en selfhandhawing wat beloof om ons te red uit ʼn gevoel van hopeloosheid.

Hoe sal ons dan te midde van al die aanloklikhede en die aktiwiteite van die “feesseisoen” die Messias herken? Hoe sal ons weet wanneer die regte musiek in ons ore klink?

Miskien moet ons ag slaan op Jesus se antwoord aan Johannes se dissipels: Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lames loop, melaatses word gereining, en aan armes word die evangelie verkondig.” (Matteus 11:4-6a)

Vanuit ons menslike oogpunt, kyk ons dikwels die tekens van hoop mis.  Hoop word nie gebore uit die afgesaagde verwagtings van ʼn kultuur wat hoop al lankal langs die pad verloor het nie, of verruil het vir die beloftes van die magtiges en die rykes nie. Hoop word gebore waar nuwe lewe voortspruit.  

Mag Advent ʼn tyd wees van hernude hoop met ʼn vonkie vreugde vir jou en die naby aan jou. 

Barmhartigheid is ook om meer van jouself te gee.

Barmhartigheid is ook om meer van jouself te gee. Ek dink ons moet dit vir mekaar sê dat Barmhartigheid nie is om vir iemand 'n aalmoesie in die hand te stop nie. Dit doen ons gewoonlik net om ons gewete te sus en om so gou en pynloos moontlik van die persoon ontslae te raak. Die Samaritaan neem die man na 'n herberg. Hy oornag een nag saam met hom. Die volgende more met sy vertrek gee hy vir die herbergier nog geld. En hy belowe om as hy terugkom te vergoed as daar nog onkoste was. - Hoor jy wat hier gebeur? Die samaritaan is nie van plan om gou van die man te vergeet nie. Soos wat hy met sy besigheid voortgaan sal die man in sy gedagtes bly. Op sy terugreis gaan hy weer by die herberg omgaan om te hoor hoe dit gegaan het, en hy is bereid om verdere onkoste te dek as dit daarop neerkom! - Hier die ou het nie van die slagoffer ontslae geraak so gou as moontlik nie! Hy het betrokke geraak. Hy het van homself gegee. Sy krag, sy aandag, sy geld, en hy het die ou in sy gedagtes gehou. - Dit is om ware barmhartigheid te bewys.

Om die ekstra myl te loop

Om die ekstra myl te loop. Daar staan duidelik in : 34 dat die samaritaan die man op sy rydier gehelp het en hom na ’n herberg geneem het. Met ander woorde dat hy uit sy pad moes gaan. Hy moes tyd spandeer, hy moes die man op sy rydier help. - die Samaritaan het seker vol bloed geword en vuil geword terwyl hy die ander man gehelp het. - Dit wat ek en jy sommer so in die verbygaan doen wat ons nie iets kos nie, wat nie iets persoonlik van ons vra nie is nie barmhartigheid nie, dit is om jou gewete te sus. Barmhartigheid is om bereid te wees om uit jou pad te gaan om die ander te help.

 

Om te doen wat jy kan.

Om te doen wat jy kan. Die Samaritaan het dadelik by die man gestop, hom versorg met wat hy by hom gehad het. Hy het die bietjie wyn en olie wat hy by hom gehad het gebruik om die ander man se wonde te verbind. - Hierdie is nogal belangrik. God vra nooit vir jou om iets te gee wat jy nie het nie. God vra dat jy 'n naaste vir iemand anders moet wees met dit wat tot jou beskikking is. Wat het jy tot jou beskikking waarmee jy iemand anders kan help? - Jy het tyd. Barmhartigheid is om tyd by iemand te spandeer. Om met medelye te gaan sit en luister. Dikwels kan jy nie die persoon se probleem oplos nie, maar deur bloot by die persoon te gaan sit en met medelye te luister, doen jy reeds wat God van jou verwag. Jy het dalk 'n oop kamer tot so 'n persoon se beskikking vir 'n afsienbare tyd. Jou voertuig staan in die garage en op roes. Jy het kos, klere beskutting, deel dit met daardie persoon wat God oor jou pad gebring het.

Om iemand wat seergekry het jammer te kry.

Om iemand wat seergekry het jammer te kry. Wat sê Jesus se storie, waarom het die Samaritaan gehelp? Want hy het hom jammer gekry. - Ons kan die woord barmhartigheid ook vertaal met medelye. - Die woord beteken presies wat hy sê, om saam met die lydende persoon te ly. Om sy pyn te voel en daadwerklik daarby betrokke te raak! Een van die kommentare sê Barmhartigheid is medelye in aksie!

Barmhartigheid is om die persoon in nood se behoefte hoër te ag as jou eie

Barmhartigheid is om die persoon in nood se behoefte hoër te ag as jou eie. Jesus sê in sy storie dat die Samaritaan op reis was. - hy het nie daar rondgedrentel daardie dag omdat hy niks gehad het om te doen nie. - hy was iewers heen op pad! Hy moes by die ander plek uitkom! Maar sy sake en sy bestemming was nie vir hom so belangrik dat hy nie tyd gehad het vir die man wat seergekry het nie. Om ware barmhartigheid te vertoon beteken om minder bekommerd te wees oor jou eie sake en meer om te gee vir ander en hulle pyn.

Barmhartigheid is om nie verskonings te soek nie.

Barmhartigheid is om nie verskonings te soek nie. Waarom het die priester en die Leviet nie gehelp nie? - Hulle het verskonings gehad. As ons vanmore die ou twee hier voor die kansel gehad het en vir hulle gevra het waarom hulle nie gehelp het nie, sou hulle sekerlik dieselfde oortuigende verskoning gehad het: “Ons was op pad om tempeldiens te gaan doen en toe kry ons hierdie ou langs die pad. Ons het nie geweet of hy dood is en of hy lewe nie. En daar is 'n voorskrif in Levitikus wat sê dat 'n priester of 'n leviet nie tempeldiens mag doen as hulle onrein is nie, en om aan 'n lyk te vat maak 'n mens onrein. As die ou dood was en ons aan hom geraak het, dan sou ons nie vandag ons belangrike werk by die tempel kon doen nie, en dan was daar mense wat nie vandag kon aanbid nie. Barmhartigheid is om nie verskoning te soek nie, maar om uit te reik na iemand in nood, ongeag.

Wie is ons nou?

Wie is ons nou? - die Bybel verwys nie meer na ons as heidene nie. Ons is nie meer sondaars in God se oë nie, ons is nie meer verlore nie, - God sien ons vandag as sy volk – sy uitverkore volk. Dit alles op grond van... God se barmhartigheid 1Pe_2:10 Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

Ons uitverkiesing, ons verlossing, ons posisie voor God staan en val by een ding, - die barmhartigheid van God.

God verwag nou van jou wat soveel barmhartigheid van hom ontvang het – om barmhartigheid aan ander te gaan bewys.

Jy vra vir my hoe wat presies bedoel ek as ek van barmhartigheid praat? Wel daar is geen beter manier om barmhartigheid te verduidelik as deur 'n storie nie. - 'n storie wat uit die Here Jesus se mond kom. Lees saam met my uit Lukas 10:25-37.

Ons kan die verhaal uit baie hoeke benader, maak kom ons benader die verhaal met een enkele vraag: wat beteken dit om barmhartigheid te bewys?

God se barmhartigheid het jou gered van jou sonde

God se barmhartigheid het jou gered van jou sonde!Jou verlossing is 100% God se werk. Dit het begin met die uitverkiesing. Efe 1:4 sê nog voordat die wêreld geskep is, (het God) ons in Christus uitverkies. Jesus sterf dus aan die kruis om die uitverkorenes van hulle sonde te verlos. Omdat jy uitverkies is het Jesus vir jou sonde gesterf. Die volgende goeie vraag sou wees; waarom het God nou eintlik vir mý uitverkies? Luister wat sê Romeine 9:11 ... Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. :14 Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! :15 Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Romeine 9:16 Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. Jou verlossing is gebore uit God se barmhartigheid.

Toe dit by die uitvoering van die verlossings-transaksie kom is dit nog steeds 'n daad wat deur God se barmhartigheid gedryf word. Hoe sou God die uitverkorenes gered kry sonder om elke reël van regverdigheid in die boek te vernietig? Hy moes 'n plaasvervanger kry. Iemand wat namens ons kon optree. - Amper soos 'n prokureur wat namens jou in die hof verskyn. En dit is Jesus. Luister wat sê Efesiërs 2:4 van ons verlossingsproses: Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Omdat God ryk is in wat? ... barmhartigheid. Het Hy sy Seun gestuur en ons saam met Hom lewend gemaak. Wat was God se motivering by ons verlossing? Barmhartigheid en genade.

Nou dat ons gered is deur Jesus Christus het ons niks meer om voor God te vrees nie. Ons kan dus nou God se troon met vrymoedigheid benader! Op Grond van Christus weet ons dat ons nou niks anders voor God se troon sal ontvang as ... Barmhartigheid en genade. Heb_4:16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Kleuterskool in Elandspoort

n Groot dag breek aan more 30 Nov 2015 begin ons met opleiding van ons eerste dagmoeders by Elandspoort. Die Here het dit op ons pad gele dat ons kragte en verstand meer moet toespits op ons kinders in Nedersettings. Ons het besluit om die kinders te begin toerus met skool opleiding. Kinders kan die regte wegspring plek wees waar ouers wat sit en vasgevang is in kampe en miskien nie weet hoe om weer op te staan nie en miskien ook nie die wil het om weer te begin nie se oe oop te maak en te wys dat hulle die kinders die voortou sal vat en sal loop om hul eie bestaan te vestig. Hierdie blye dag het vir ons deure oopgemaak toe ons gaan sit en beraadslag het hoe ons tewerk gaan en ons het die Here gesmeek in ons soeke na oplossings om die euwel van n kamp of n Nedersetting te beveg. Ons het n blye boodskap ontvang om op te staan en uit tegaan na die wye wereld daar buite en te gaan soek vir hulp om kinders weer op die skoolbanke te kry en hulle voor te berei om weer die lus te ontwikkel en die begeertes te kry om hulself toe te rus met kennis . Ons het mense gekry wat bereid was om een klassie vir 12 kinders beskikbaar te stel in Elandspoort en hulle sal ook more oggend die finale dekorasies bring met die inwyding van ons skooltjie. Ons is al klaar besig met onderhandelinge vir nog klassies in naby gelee pekke waar hierdie kinders woon aangesien vervoer en ander dinge ons baie pootjie. Ons het oo reeds ndie hulp van n Prokureer ontvang om vir ons GELDIGE ooreenkomste met wetlike regte op te stel van eiendommme en toerusting en die beskerming daarvan op te stel sodat ons binne die wet kan beweeg. Daar is ook ooreenkomste opgestel tussen Doulos en n dame wat n "menu" sal opstel vir etes vir kinders op n maand basis waar Doulos die eetgoed sal voorsien. Nog n skool onderwyseres van Midstream gaan help om die dagmoeder by te staan aan die begin kursusse. Daar word ook aan gewerk om n onderwyseres te gebruik om swemklasse te gee vir oud en jonk en baie belangrik vir kinders met gestremdhede(ons soek nog net iemand wat hulle swembad een keer per week beskibaar sal maak vir 2 ure). Dit beteken ook dat ons werkskepping onmiddelik begin deur die Dagmoeders wat betrokke gaan wees sal betaal vir hulle dienste

Verheug jou in die hoop

Verheug jou in die hoop

“Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop, en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. ” - Romeine 5:2-5.

Paulus begin die hoofstuk met die belangrike stelling dat ons deur God vrygespreek is omdat ons glo. Ons kan nie die vryspraak van enige skuld verdien nie. Ons kan dit net aanvaar op grond van Jesus se kruisverdienste. Ons is vry van alle skuld. Maar dis nie al nie; ons het deur ons geloof vrye toegang (weer 'n keer sonder betaling of verdienste!) verkry tot God se wonderlike genade.

Paulus kan dit darem net nie sterk genoeg benadruk nie: daar is geen greintjie verdienste in die hele saak betrokke nie, alles is genade. En uit hierdie oorvloedige genade wat ons deel geword het deur geloof in Jesus Christus, is daar nou ‘n tintelende hoop op wat nog moet kom. Ons verheug ons nou reeds in die heerlikheid van God wat vir ons in die vooruitsig gestel is, die heerlikheid waarop ons hoop.

Die vroeë Christene moes baie moeilike omstandighede ter wille van hulle geloof trotseer. Hulle is vervolg en hulle lewe is bedreig. Hulle het met ‘n intense verwagting uitgesien na die heerlikheid van God wat by Jesus se wederkoms hulle deel sou word. Die Christene wat die Romeine-brief gelees het, het waarskynlik hulle oë gesluit en vir ’n oomblik gedroom oor die vooruitsig van die komende heerlikheid, veral teen die agtergrond van hulle moeilike omstandighede. En terwyl hulle nog so droom, gaan Paulus voort. Hy bring hulle met ‘n skok-uitspraak weer terug na moederaarde. Hy spoor hulle aan om hulle ook in hulle swaarkry te verheug.

Paulus doen hier 'n merkwaardige ding: hy wil keer dat gelowiges met hulle gedagtes droomverlore in die toekomstige heerlikheid sal bly lewe. Hy wil hulle laat insien hoe selfs die moeilike omstandighede tot dieversterking van hulle hoop kan bydra. Hy sê: wees bly oor die positiewe gevolge wat swaarkry in julle lewe het. Dit help julle om te volhard in julle geloof, en namate julle geloof versterk word, word ook julle hoop op God se toekoms vir julle al hoe sterker.

Paulus praat van ‘n baie spesiale hoop. Dit gaan hier oor baie meer as mooi toekomsdrome wat ons graag voor ons dood wil bereik en wat dan soms aan skerwe spat. Dit gaan hier oor die ewige lewe na ons dood. Dit gaan letterlik oor die verskil tussen lewe en dood. Want al sou alles vir ons presies net so gebeur as wat ons gehoop het, en ons het nie sekerheid oor die ewige lewe nie, was al ons drome tog uiteindelik tevergeefs. Nee, sê Paulus, oor die ewige lewe hoef jy nie vir een oomblik onseker te wees nie. Hoe kan hy daarvan so seker wees? Omdat hy seker is van God se liefde wat in ons hart uitgestort is. Die Heilige Gees wat by ons woon, bevestig elke dag ons hoop, want Hy verseker ons elke dag van God se liefde.

Verheug jou in God se liefde en ervaar hoe jou hoop daardeur versterk word. Sien jy ook uit na daardie onbeskryflike heerlikheid waaraan jy deel gaan hê?

Saamgestel uit: Hoop vir die lewe deur Johan Smit. (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy).

Dankie dat ek na 'n werk toe kan gaan

Dankie Here. Dankie Vader dat ons hierdie oggend kon wakker word uit 'n warm bed. Dankie Here dat ek iets het om net-nou te eet, al is dit nie 'n vyfster maaltyd nie. Dankie dat ek na 'n werk toe kan gaan, al voel ek soms ongelukkig - en dis dalk weens my eie onvergenoegdheid. Dankie Here, dat ons gratis suurstof kan inasem, dankie dat U in meer voorsien as wat geld kan koop. Dankie Here, dat ek kan lewe op hierdie oomblik, al is ek miskien siek. Dankie Here, dat ons in 'n ongelooflike land kan bly, al is ons soms bekommerd. Dankie Here, dat ons die beste klimaat in die wêreld het, dat ons nie in 'n oorlog gewikkel is soos baie ander lande nie. Dankie Here, dat U ons beskerm, maar ook by ons staan as iets verkeerd geloop het. Dankie Here, dat ons só baie geleenthede het in Suid-Afrika, en Here, bo alles, dankie dat ons herlewing in ons land sien, op 'n skaal wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. Dankie Here, dat ons U hier openlik kan aanbid, rugbystadions kan volpak en uit volle bors U Naam uitsing en uitjubel. Dankie Here, dat U vir ons geliefdes gee aan wie ons verbind kan wees. Dankie Here, dat ons in 'n verhouding met U kan staan, en dat ons kan weet U is aan ons kant. Dankie Here, dat U die beste vir ons in gedagte het, en nie elke gebed verhoor wat ons uit onkunde en selfsug bid nie. Dankie Here, dat U die toekoms ken, en daarvolgens vir ons deure oop en toe maak. Dankie Here, dat U nie swig voor ons aardse, sondige begeertes nie, maar U soewereiniteit en integriteit laat geld. Dankie Vader, as ons soms tot die besef kom, dat dit baie, baie goed met ons gaan, al sien ons dit nie altyd raak nie. Ons dank U, in die Naam van Jesus.